
KAAPSTAD. – Hy komponeer klankbane vir lokettreffers en het meer as 47 jaar in Engeland gewoon.
Nou is hy terug by die huis, waar hy saam met sy broer en neefs wil gaan visvang en tussendeur nóg klankbane komponeer.
Maar, sê Trevor Jones (64) – wat in Engeland en Amerika bekendheid verwerf het met die klankbane van flieks soos Mississippi Burning, The Last of the Mohicans (1992), Cliffhanger, In the Name of the Father en Notting Hill – hy wil nou ’n stem vir die stemloses in Suid-Afrika word.
Jones, oorspronklik van Distrik Ses, is sedert Maart vanjaar terug in Suid-Afrika. Hy en sy vrou woon nou in ’n strandhuis iewers naby Kaappunt. Hier is dit net hy, sy vrou en die see, sê hy.
Hy is op 17 jaar landuit met ’n musiekbeurs van die Royal Academy of Music in Londen.
Jones wil hê sodanige geleenthede moet nou ook ander jong Suid-Afrikaners te beurt val.
“Dit is ’n musiekbeurs wat my die geleentheid gegee het om oorsee te gaan studeer. Daar is my intellek nie op grond van my velkleur geskat nie, maar op wat ek kon doen.”
Hy wil hê kinders in Suid-Afrika moet weet hulle het die reg op ’n beter opvoeding. “Suid-Afrika gaan nie vorentoe beweeg as daar nie in die jeug belê word nie.”
Hy raak driftig wanneer hy praat oor die toestande by skole. “Hoekom is daar nie toilette nie? Hoekom moet kinders hoor daar word beplan vir toilette in die toekoms? Dit moet outomaties daar wees vir ons kinders.”
Die kleurbeheptheid van Suid-Afrikaners kry Jones ook onder. Hy sê hy is betrokke by verskeie projekte en wanneer hy iemand soek om ’n spesifieke werk te doen, gaan hy hom nie op grond van velkleur aanstel nie. “Ek soek iemand wat die werk kan doen.”
Hy beskryf homself as ’n “skollie” van Distrik Ses, maar sê terselfdertyd dis die lewe in Distrik Ses wat hom taai gemaak en in staat gestel het om in Hollywood sy man te staan en te oorleef.
“Hier is soveel talent in Suid-Afrika. Dit moet gekoester word en daar moet geleenthede geskep word. Hoekom moet ons altyd die slagoffers wees?”
Jones het weer op Suid-Afrikaners se radar verskyn toe hy ’n gasverskyning op Idols gemaak het. Hy het as mentor vir die laaste agt deelnemers opgetree. Hy reken egter dit is die ander 92 hoopvolles wat onder die top-100 was, wat mentorskap nodig het.
Gevra of hy volgende jaar gaan stem, sê hy ja. Sy burgerskap is 18 maande nadat hy in 1967 na Engeland is, deur die apartheidsregering afgeneem. Hy is dit egter ’n paar jaar gelede weer aangebied. Sy vier kinders, van wie drie ook in die rolprentbedryf is, het ook Suid-Afrikaanse burgerskap. “Ek het geen aandeel daaraan gehad nie. Hulle het self besluit dat hulle Suid-Afrikaanse burgerskap wil hê.”
Discover more from Triple M Entertainment
Subscribe to get the latest posts sent to your email.